Testimony from a grateful wife and mother: Nicolene F

‘n Dag na ons oudste seun se 14de verjaarsdag, is my man vir die eerste keer in 23jaar opgeneem in ‘n rehabilitasiesentrum. Ek het geweet as hy nie sou instem om professionele hulp te kry nie dat ek hom in dieselfde jaar nog sou begrawe.

Die oggend het ek sy tas gepak. Hy het die seuns gegroet en ons het gery. Dit was die langste rit van my lewe. Toe ek die hekke van Breakthrough Wellness Centre sien en ons die draai vat om in te ry het die volle impak van die realiteit van ons omstandighede my hard getref, dit het gevoel asof al die lewe (die bietjie wat ek self nog oorgehad het) uit my liggaam verdwyn. Tyd het vir ‘n oomblik stil gestaan. Dit het soos ‘n droom gevoel.

Kan dit wees? My man met die sterk persoonlikheid, wat onder geen omstandighede ooit toegelaat het dat enige iemand insae lewer in sy lewe, sy gedrag of sy denke nie. Dit was sy manier en net sy manier. Hierdie man gaan binne minute uit sy wêreld gevat word en hy gaan homself vir die eerste keer moet konfronteer.

Ek was bang, maar fisies te moeg en emosioneel so uitgebrand dat selfs my vrese nie die aandag kon kry wat dit moes nie. Ek dink die energie wat ek oorgehad het na 15jaar se huwelik met ‘n dwelmverslaafde het my letterlik aan die lewe gehou. Die woord “moeg” kom nie naby aan wat ek gevoel het nie. Die woord “uitgeput” is ‘n flou uitdrukking van my eie toestand. Die nagevolge van verslawing is niemand se speelmaat nie. Die impak is eindeloos. Genadeloos. My enigste gebed vir ‘n jaar lank was net “Here Help My!”

Ons stop onder die bome en toe sien ek 2 vreemdelinge wat ek glo gestuur is om die hoë emosionele mure van my man se hart af te breek, die warm vlamme van die verlede te blus.

Reinier van Vollenstee en Morne Hoyer is in my oë lewensredders. Hulle het van dag 1 presies geweet hoe om hom te hanteer. Hul professionele berading en strategie om by die “diep dinge” uit te kom kan ek eerlikwaar sê “Werk”. Hy het ook ‘n baie nou band gevorm met Leon van Vollenstee (die Pa van die huis).

Die 21dae-program was so uitdagend. As werkende vrou en ma van 2 skoolgaande seuns moes ek ‘n huis aanmekaar hou asof daar niks fout was nie. Op hierdie stadium het die seuns nie geweet waar pappa is nie, hulle is eers die waarheid vertel toe hy terug is by die huis. Ek het hulle soveel soos wat ek kon beskerm teen die vuurpyle van verslawing. Ten koste van myself, het ek die “houe” gevat sodat hulle nie seerkry nie. Ek was gedaan.

Niemand het geweet waardeur ons gaan nie. Niemand. Ek was stoksiel alleen teen hierdie stryd vir 15jaar van die totale 23jaar wat my man in aktiewe verslawing was. Linda van Vollenstee (Reinier se ma) het my anker geword. In die aande na werk wanneer die kinders slaap het ek my hart uitgepraat tussendeur ‘n rivier van trane, woede, frustrasie en baie vrae.

Ek kon enigeiets vra, ek kon enigeiets sê, ek kon ook net huil. Vir die eerste keer kon ek eerlik wees. Vir die eerste keer was ek raakgesien in die hel wat ek myself in bevind het. Vir die eerste keer was my stem gehoor wat vir soveel jare stil was. Daar was geen oordeel vir my eie toestand nie.

Die trauma om ‘n huis en lewe te deel met ‘n persoon in aktiewe verslawing is baie intens en daar is skade wat geneesing nodig het. Ek is deurlopend in die proses van my man se 21dae-program ondersteun deur die personeel om myself ook kans te gee om tot terme te kom met my nuwe realiteit, dit te aanvaar en myself tyd te gee om te herstel. Dit is ‘n proses wat ek nie sou kon deurmaak sonder die Breakthrough-span nie.

My man het ‘n radikale ommekeer nodig gehad en Breakthrough Wellness Centre is sonder twyfel ‘n rehabilitasiesentrum met radikale intensie.

Vandag en 15mde later, is daar vir die eerste keer ware vrede binne die man wat ek soveel jaar lank al ken. Die program werk want hy werk die program. Die storms van my eie hart het stilte bereik en ons het ‘n toekoms vol hoop van die dinge wat goed en mooi is.

Ek en ons seuns is ewig dankbaar vir die oop deure van Breakthrough Wellness Centre. Dáár is die kloue van verslawing vasgevat, dáár het my man homself vir die eerste keer leer ken, dáár het dit wat in die donker was vir soveel jare in aanraking gekom met die lig.

Ons is gelukkiger as ooit en vrede heers ten volle in ons harte en huis.

Breakthrough Wellness Centre en die hele span is ‘n baken van hoop. Ek bemoedig elke vrou en mamma wat hierdie lees om die radikale stap te neem na vryheid. Dáár in die hartjie van Witbank wag ‘n nuwe lewe.

NL